Die Hwange Safari Lodge het twee restaurante: die Dingani Restaurant (kan 150 mense sit) en die buitelug-swembadgebied (sitplek vir 200 gaste). Die Dingani Restaurant bied ‘n a la carte spyskaart aan en het ‘n pragtige uitsig oor die veld danksy groot vensters e4n skuifdeure. Die swembadgebied bied versnaperinge en ligte maaltye, buffet-ontbyte, middag- en aandetes aan en elke aand pak hulle ‘n reuse kampvuur aan. As jy regtig die beste van die Hwange Safari Lodge il ondervind, vra vir ‘n “bush dinner”. Hulle dek lang tafels langs die knetterende kampvuur en gaste kan weglê aan ‘n heerlike “bos-buffet”.
Die Tusker Cocktail Bar kan 50 mense akkommodeer (en indien ‘n mens die sitkamer bytel, kan nog 100 gaste plaasneem). Die Waterhole Bar is op die uitkykdek geleë en is gewoonlik gedurende die laagseisoen gesluit. Die Waterhole Bar kan egter op gaste se versoek oopgemaak word. Dit is die ideale plek om ‘n koel skemerkelkie te geniet terwyl jy kyk hoe die diere hul dors kom les.
Hwange Safari Lodge is net buite die grens van die bekende Hwange Nasionale Park geleë, en maak eintlik deel van die Park uit. Hwange Safari Lodge in Zimbabwe is slegs ‘n uur se rit vanaf die Victoria-watervalle, op die pad vanaf Bulawayo.
By Hwange Safari Lodge word die gaste in 100 smaakvol ingerigte kamers en suites gehuisves. Almal is en-suite, met lugverkoeling, waaier en verwarmers. Die kamers kyk óf op die watergat, óf savanne-veld, óf swembad uit. Gaste moet ook nie te verbaas wees as hulle ‘n nuuskierige olifant sien as hulle by hul kamervenster uitkyk nie.
Die Hwange Safari Lodge maak voorsiening vir uiteenlopende gaste met verskillende boehoeftes – van gesinne, tot paartjies, alleenreisigers of toergroepe. Gaste het ‘n keuse van ruim suites, of standaardkamers, met dubbel- of enkelbeddens. Slegs ‘n beperkte aantal kamers het TV sodat rus en vrede ‘n gegewe is. Muskietnette, tee/koffie-stasies, koffietafel en sitkamerstoele, haardroër, telefoon en ‘n skryftafel is standaardtoerusting in alle kamers en suites.
Die begeleide aand- of dagwildritte is ‘n hoogtepunt van die Hwange Safari Lodge. As jy egter nie lus voel om jou in die veld te begewe nie, kan jy eenvoudig net sit en kyk hoe verskillende diere die watergat kom besoek. Naby die Lodge is ‘n dorpie waar pottebakkers kunstige geskenke aanbied om huis toe te neem. Terwyl jy by die Hwange Safari Lodge tuisgaan, kan jy ook die nabygeleë Dete besoek om na hul diere-skuilplek en die bekende “geverfde honde” te kyk.
Die konferensiefasiliteite by Hwange Safari Lodge is van internasionale standaard en kan tot 100 mense akkommodeer. Die fasiliteite sluit alle elektroniese toerusting in wat nodig is vir ‘n konferensie. Sou jy dalk nog toerusting benodig, sal die personeel by Hwange Safari Lodge jou graag help.